Ons gaan nog almal oud word

Ons moet leer hoe om oud te word! Ons almal gaan nog oud word mits geen dodelike ongeval, hartaanval of ernstige siekte ons tref nie. Ek het onlangs ’n inspirerende storie gehoor oor die Goudvelders wat in hulleself glo al is hulle al oud. Hierdie mense laat nie toe dat oudword ’n demper op hulle plaas nie. Hulle glo jy moet elke geleentheid met ope arms aangryp en die beste daarvan maak. Ek behoort aan ’n groep 60-plussers wat ook een keer per maand byeenkom – die Immergroeners en die Hanekamme. Hier word heerlik speletjies gespeel, gelag, gesels en kyk, hierdie ooms en tantes spog met hulle smaaklike eetgoed. Uitstappies word gereël en daar word heerlik piekniek gehou. Hier vertel ons lekkerlagstories en soms ook hartseerstories. Ons deel in elkeen se leed en almal ontferm hulle oor mekaar. My gebede vir elke bejaarde, veral ons vergete en eensame bejaardes, is: Mag ons Hemelse Vader julle met Sy mildelike liefde, geloof en hoop seën. Geniet elke oomblik van jou lewe en weet elke dag is een wat ons Hemelse Vader aan ons toevertrou. Dis ’n kosbare geskenk wat ons onverdiend ontvang daarom moet ons die beste daarvan maak. Ek wil ’n versoek aan al ons eensames, bejaardes en verwerptes rig om by soortgelyke organisasies aan te sluit. Dit kan jou lewe soveel meer opwindend en voller maak. Aan die kinders en familie van bogenoemde persone – as hulle nie die finansies het nie, reik uit na hulle en wees mededeelsaam. Verander hulle lewens sodat hulle ook waardevol kan voel.

A Schoeman