Reaksie op evolusie-artikel in JUIG!

Dit is met gemengde gevoelens dat ek hierdie brief aan julle skryf.

Toe ek die artikel se opskrif lees, was ek aanvanklik so opgewonde, want hier (het ek gedink) is (nog) ’n wetenskaplike wat uitkom vir die waarheid van Genesis 1-11 en homself skaar by die duisende kreasionis-wetenskaplikes wêreldwyd wat die leuen van evolusie uit ’n wetenskaplike hoek weerlê. Sou hy bereid wees om selfs die misleiding van sy eie pa aan die kaak te stel aangaande die evolusionisme? Die subtitel “Darwin se idee van evolusie is skokkend” het my verder gerus gestel en vir ’n oomblik het ek gedink: “Welkom in ons midde broer.”

Groot was my teleurstelling egter toe ek besef dat hierdie geleerde man besig is om d.m.v. sy boek ’n standpunt te verdedig wat heel duidelik maar net nog ’n wapen in die arsenaal bied vir diegene wat probeer regverdig hoekom hulle nie meer in die God van die Bybel hoef te glo nie. 

Hier word ’n tweebladadvertensie-artikel geplaas wat verseker verwarring by baie mense gaan veroorsaak en olie op evolusioniste se vuur is. Teïstiese evolusie is BAIE gevaarliker as darwinisme omdat dit wêreldwyd deur die oorgrote meerderheid van predikante, onderwysers en dosente verkondig word. Wanneer die vyand ’n wig begin indryf, begin hy nooit met ’n grote nie, maar altyd met ’n klein wiggie wat niemand sal ontstel of hul verdedigingsmeganisme aktiveer nie. 

In die tien jaar van TAS FORUM se bestaan wil ons egter glo dat die Here ons onderskeidingsvermoë gegee het om die kaf van die koring te skei. Verstaan my asseblief reg hier. Ons is bewus dat Basie Basson se boek-advertensie wat soortgelyke blootstelling as dr. Alberts s’n geniet het. Die verskil is egter dat die een vir die waarheid staan en die ander vir die leuen. Is onderskeid tussen hierdie twee wêreldsienings belangrik vir julle as banier van die Kerk van Jesus op hierdie stadium in SA? Ons by TAS is baie ontsteld oor hierdie artikel. Ons sien dit egter terselfdertyd as ’n goeie geleentheid vir julle om nou standpunt in te neem oor die gevaar van evolusionisme. Vir ons by TAS is daar een enkele kwessie wat uitstaan tussen al die vrae wat mense vandag het oor die oorsprongswetenskap. Trouens dit raak die hele kerk en kan beskou word as die “Issue of Issues” in die kerk vandag wêreldwyd, en dit is die Waarheid en Gesag van God se Woord. Glo jy wat God se in Sy Woord is waar of kan dit dalk ’n leuen wees? As jy begin torring aan die historisiteit van Genesis 1-11, maak die res van die Evangelie skielik nie meer saak nie en val alles uitmekaar. Al wat oorbly is dalk die morele lesse en voorbeeld van Jesus en die apostels, maar sonder om dit te sien binne die groter konteks van God se Koninkryk, bly dit slegs ’n stel reëls / beginsels wat ons kan kies om te volg of verwerp. 

 Emile du Plessis (TAS FORUM)