“Life is fundamentally uncertain!” weerklink ’n filosofieprofessor se bulderstem in my kop. Hierdie koronading het ons onseker. Ons wil die onsekerhede van die lewe verminder deur dinge beter te verstaan. Die koronavirus het soos ’n tsunami oor ons lewensbootjies kom breek. Ons soek na ’n plek om te anker, terwyl golf op golf onsekerheid ons tref. Saam met Psalm 121, roep ek as Christen uit: “Ek kyk op na die berge: waarvandaan sal daar vir my hulp kom?”
Almal ken die uitdrukking: Kennis is mag. Die wetenskap – wat vir ons waarneembare, meetbare konkrete feite gee – is sekerlik die rots waar ons kan anker? As die wetenskap sê: Sonder jou af, dra maskers, was jou hande en handhaaf sosiale afstand – doen ons dit. Die wetenskap met sy feite kan goed verklaar hoe die lewe ís, wat die stand van sake is. As mensdom marsjeer ons op die ritme van die wetenskap se feite. Al is die data skraps, die statistiek skeefgetrek en meng die politiek in, gooi die meeste mense by die wetenskap anker.
Waarom is my siel dan so onrustig? Want die wetenskap kan nie vir my sê hóé ek behoort te lewe nie. As Christen kies ek om anker te gooi by ’n ander Rots. Dit vereis geloof buite die sienlike ryk van wat-ek-kan-weet. Ek moet erken dat ek in wese meer as net my vermoë tot rasionele denke is. In die woorde van Victor Frankl: “Wat van jou as mens vereis word, is nie om die betekenisloosheid van die lewe te verduur nie, maar eerder jou eie gebrekkige onvermoë om die betekenisvolheid van lewe in rasionele terme te kan begryp.“ Dit vereis dat ek Rede – wat haarself as koningin van my menswees aangestel het, ’n bietjie op haar plek sit. Neffens my wil (tot betekenisvolle lewe) en emosies (passie vir lewe). Dit behels ’n fokusverskuiwing – om te glo soos ’n kind wat dalk met postwaarheid emosie uitroep: Kyk! Die koronakeiser het nie klere aan nie!
“Things are going to slide, slide in all directions, won’t be nothing, nothing you can measure anymore,” sing Leonard Cohen bykans profeties. Kan die wetenskap se meet van COVID-19-gebeure die mensdom van ’n sinnelose lewe red? Ek ervaar dat ’n kloof oopbreek tussen die IS, wat die Wetenskap my kan gee, en die BEHOORT van my Christelike lewensbeskouing. Wetenskap en rede het nie die antwoorde oor hoe ek sinvol behoort te lewe nie. Ek kies om by die Here te anker van wie daar geskryf staan: “Dit was die bedoeling van God in Sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, diè te red wat glo.” – 1 Korintiërs 1:21
Elna Davies