In 1970 het ’n bekende psigiater, dr. Karl Menninger, die boek, ‘Whatever Became Of Sin?’, geskryf. Dit was nie ’n Christelike boek nie en hy was self ook nie ’n toegewyde Christen nie. Hy het bloot ’n wêreldwye probleem aangespreek soos hy dit waargeneem het. Die woord ‘sonde’ en dít wat die woord aangespreek en beskryf het, het feitlik uit mense se woordeskat verdwyn en die gevolge daarvan is vernietigend, het Menninger aangevoer. Na aanleiding van sy ervaring met mense en hulle probleme, skryf hy dat hoewel ‘sonde’ uit ons woordeskat verdwyn het, ’n skuldgevoel steeds in ons hart en denke aangetref word. Hy het ’n oproep gedoen op die terugkeer van sondebekenning en die aanvaarding van verantwoordelikheid daarvan.
Goedkeuring van sonde
In ’n artikel, ‘The Death Of Shame’ wat in The Mail Online verskyn het, het Bel Mooney, wat weer eens nie self ’n Christen is nie, geskryf hoe die samelewing dít wat eens as verkeerd en sondig beskou is, veralledaags – met ernstige gevolge vir die hele samelewing. ’n Advertensie wat slenterseks (‘one night stands’) as ’n plesiertjie afgemaak het en ten spyte van talle besware, tog deur die advertensiebeheerliggaam van Engeland skadeloos verklaar is, het aanleiding tot die artikel gegee. Sy bely dat sy self in die verlede nie onskuldig was nie en voer aan dat wanneer die skaamtegevoel van ’n hele samelewing verlore gaan, ons ernstige probleme op hande het. Die Bybel praat van ’n tyd wanneer sonde nie net gedoen sal word nie, maar ook goedgekeur sal word. Romeine 1 praat van ’n komende seisoen wanneer die mensdom ’n gebrek aan insig sal hê, en hulle onverstandige harte so sal verduister dat hulle nie reg van verkeerd sal kan onderskei nie. “Hulle is mense wat die verordening van God ken dat dié wat sulke dinge doen, die dood verdien, en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.” Rom 1:32.
Wat is sonde?
Die bekende koerant, USA Today, het onlangs ’n artikel gepubliseer oor ’n opname wat hulle gedoen het. Die titel van die artikel was, ‘Has The Notion Of Sin Been Lost?’ Die opname het bevind dat die meeste Amerikaners steeds in sonde glo. Om die waarheid te sê beweer 87% Amerikaners dat hulle in die bestaan van sonde glo. Die probleem is dat ‘sonde’ deesdae heromskryf word . Die opname het bevind dat dít was eens as ‘sonde’ of ‘sondig’ bestempel is, toenemend as normaal aanvaar word. Wanneer daar dus oor ‘sonde’ gepraat word, verwys dit nie noodwendig meer na dieselfde dinge as wat tradisioneel as sondig beskou is nie. Daar is bevind dat dinge soos dobbel, voorhuwelikse seks, saamwonery, gay-verhoudings, ens., nie meer as sondige kwessies beskou word nie – om jou egter daarteen uit te laat of dit te veroordeel, wel.
Gebrek aan oortuiging
Dit is hartseer dat hierdie benadering selfs onder Christene ’n groeiende neiging is. Die samelewing word deur die sekulêre media, veral televisie, deurweek van lewenswyses en gedrag wat voorheen onaanvaarbaar sou wees, maar nou normaal geword het. Ons is nie meer geskok nie en neem nie meer aanstoot nie; ons sien dit daagliks op ons skerms, in ons wonings. Die teksgedeelte in Romeine het waar geword: “en tog doen hulle nie net self hierdie dinge nie, maar hulle vind dit ook goed as ander dit doen.” [Ons glanskultuur.] Die profeet Jeremia spreek sy situasie aan en dit is baie van toepassing op die tye waarin ons leef: “Wanneer hulle aan die kaakgestel word oor die gruwelike dinge wat hulle gedoen het, skaam hulle hulle nie eens nie, hulle weet nie van skaamte nie.” Jer 6:15.
Maak sonde vir jou saak?
Christene het ‘sag’ geword oor sonde. Selfs die sekulêre media het opgemerk dat die ‘S’-woord in baie kerke nie gewild is nie. Wanneer ons streef daarna om positief te wees, is om oor sonde te praat ’n bietjie lastig en ongemaklik. Mense hou nie daarvan om te hoor dat sonde wel saak maak nie, dat dit vernietigend is en tot God se oordeel lei nie. Die ou cliché dat die bose floreer wanneer goeie mense niks doen nie, is geldig. In baie situasies het die Kerk stilswyend oor sonde geword. So moeilik soos dit is, bly dit steeds die plig van die Kerk en Christene om die wêreld te waarsku dat sonde saak maak, selfs wanneer die wêreld dit nie wil hoor nie.
Kompromie bedroef God
Michael Horton van Westminster Seminarium het ’n koeranthoofopskrif opgemerk, “To hell with sin when being good is enough.” Hy het gemerk dat daar ’n verskuiwing is, weg daarvan om met sonde af te reken na ’n ‘positiewe’ Evangelie wat aantreklik is vir die voordeel wat ons daaruit kan trek. Hy merk verder op dat ons geluk met heiligheid vermeng. Wat nou saak maak, is dat ons almal gelukkig is en alles het wat ons benodig. God word die middel tot ’n doel. Tensy ons erken dat sonde ’n ernstige probleem is en God se oplossing vir die probleem toepas, loop ons volgens die Bybel gevaar om “’n ander Evangelie” te verkondig. Galasiërs 1:6-9. Dit is nie negatief om ’n ernstige probleem aan te spreek en dit by name te noem nie. Dit is liefdevol en barmhartig om dit te doen. Geen dokter gee voor dat alles goed gaan wanneer ’n ernstige siekte die pasiënt se lewe bedreig nie. In ’n selfvernietigende wêreld waar miljoene mense dieper en dieper in sonde verval en die gepaardgaande gevolge dra, moet die boodskap dat sonde saak maak, weer onverskrokke gepreek word.
Sonde het ernstige gevolge
Baie mense blameer die Bybel en die Christendom vir die wêreld se probleme. Die aandrang is dat almal gaaf en aanvaardend moet wees en nie oordeel nie. Alle gedrag word as relatief beskou; ’n persoonlike keuse. Inteendeel, baie mense betwis enige idee van sonde en verantwoordbaarheid. “Doen wat jou ookal gelukkig maak,” is die mantra. As Christene glo ons egter dat die pro-bleme van, en die wroeging in die wêreld nie as gevolg van die aanspreek van sonde is nie, maar juis omdat sonde geïgnoreer en heromskryf word. Alhoewel ons weet dat God op die ou end alle sonde sal oordeel en dat almal dan verantwoording gaan doen, bring sonde in die werklikheid van ons daaglikse lewe nietemin ernstige gevolge mee. “Ons maai wat ons saai”. Ons sien dit oral: in die politiek, die samelewing en in die daaglikse lewe van gewone mense. Daar is ’n koste verbonde aan oneerlikheid. Daar is ’n koste verbonde aan onsedelikheid. Daar is ’n koste verbonde wanneer God se Gebooie geïgnoreer word. Sy Gebooie is nie willekeurige reëls wat Hy daargestel het om ons pret en geluk te beperk nie. Hulle is daar om ons te beskerm en geestelike gesondheid en seën in ons lewens en in die hele samelewing te bring
God sal jou vergewe as jy jou sonde bely, moet dit nie verberg nie
Dawid skryf, toe hy met sy eie sonde worstel: “Dit gaan goed met die mens wie se oortredings nie gestraf word nie, wie se sonde vergewe word. Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortreding nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie. Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: ‘Voor die Here bely ek my opstandigheid;’ en U het my skuld vergewe.” Ps 32:1-5.
Erken die realiteit van sonde
Ons jongmense moet geleer en daaraan herinner word dat die “loon wat die sonde gee, die dood [is]; die genadegawe wat God gee, die ewige lewe [is].” Rom 6:23. Selfs die sekulêre samelewing begin erken dat om te leef soos jy wil, jou duur te staan kan kom. Dr. Menninger se vraag oor wat van sonde geword het, spruit uit sy beroep as ’n psigiater en die jare wat hy bestee het aan die waarneming van mense en om hulle te probeer help. Hy het tot die slotsom gekom dat geestesgesondheid en sedelike gesondheid identies is. Hy het die erkenning van die realiteit van sonde as ’n geleentheid beskou om hoop aan ’n beangste en siek wêreld te bied; die hoop in voorkoming van die probleme. Die Psalmdigter het dit verstaan: “Hoe kan ’n jongmens sy lewe skoon hou? Deur hom te hou aan U woord!” Ps 119:9.
Die antwoord op ons sondige probleem is slegs in Christus
Ons moet sonde sien vir wat dit is: dit is nooit ’n bietjie skadelose skietgee nie, maar ’n verslawende en vernietigende krag; ’n rebellie teen God en Sy standaarde. Ons moet sonde sien soos die Skrif dit omskryf; soos God dit sien en nie volgens die gewilde mening as verwysing nie. Daar is geen ware vryheid behalwe die vryheid wat Jesus skenk nie. Hy is die enigste oplossing vir menslike sondigheid en al die gepaardgaande gevolge daarvan. Hy is die enigste Verlosser. Hy het die prys betaal wat niemand anders kon betaal nie. Hy bring vergifnis en vryheid en skenk dit as ’n gawe aan dié wat hulle sonde bely het, met sonde afreken en wat vertrou op God se genade om hulle van sonde te weerhou. Hoewel niemand sondeloos is nie, leef ons met die wonderlike belofte dat : “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” 1 Joh 1:9. Ons kan sonde omskryf en herklassifiseer soveel ons wil, maar dit is slegs wanneer ons met sonde op ’n Bybelse ma-nier afreken dat ons genade en vryheid sal vind.