Rigters Verduidelik

Twee temas
1 Getrouheid van die God wat die Verbond hou.
2 Ontrouheid van die volk wat die Verbond verbreek.

• Rigters is ’n verslag van die mens se sonde, God se oordeel, God se genade en verlossing
• Rigters wys op die mens se potensiaal vir edelheid en sy vermoë tot onheil
• Ná oorwinning in Josua sien ons in Rigters kompromie en tugti-ging (Rigters 2:10)

Rigters weerspieel
7 apostasies (geloofsversakings)
7 serwitute (slawernyskappe)
7 verlossings

KONTRASTE
Josua
Oorwinning
Geloof
Gehoorsaamheid
Volk is verenig
God se Woord is sentraal

Rigters
Nederlaag
Ongeloof
Ongehoorsaamheid
Volk verdeeld en in anargie verval
God se Woord word verontagsaam

Krag in swakheid
’n Mens sien herhaaldelik hoe God ’n swak en klaarblyklik onbeduidende volk neem, hulle verander en hulle gebruik. Hulle het groot dinge vir God vermag omdat hulle op Sy krag gereken het om in hulle swakheid volbring te word. God het behae daarin om dít waarop die wêreld mag neersien te gebruik: Ehud wat ’n tuisgemaakte dolk gebruik het; Debora, ’n merkwaardige vrou; Gideon, die jongste van ’n obskure familie van die kleinste stam; Samgar met ’n osdrywerstok; en Simson met ’n kakebeen. God sal verlossing bewerkstellig deur ondergeskiktes te gebruik wanneer leiers nie standpunt inneem nie.

Sonde sal jou verder neem as wat jy wil gaan
Sonde sal jou langer daar hou as wat jy wil bly
Sonde sal jou meer kos as wat jy wil betaal

Die Rigters van Israel
Ná Josua se oorwinning van Kanaän tot en met die vorming van die eerste koninkryk van Israel, het die Israelitiese stamme ’n informele bondgenootskap gevorm. Daar was geen sentrale regering in hierdie bondgenootskap nie en gedurende krisistye is die volk deur ’n ad hoc-leierskap, bekend as die rigters, gelei.
Hierdie rigters het uit elf manne en een vrou bestaan. Die rigters het dikwels in regsake uitspraak gelewer, maar die meeste rigters het gedurende oorloë hoofsaaklik as militêre leiers opgetree. Hierdie leiers is deur God gestuur om die mense te verlos en nadat die bedreiging verby is, is daar in die reël van die rigter verwag om sy posisie as mili-têre leier prys te gee. God gebruik mense wat in geloof na vore tree, wat Hom vertrou en die moed het om die vyand teen te staan.

In Rigters sien ons herhaaldelik dié waarheid: Wat jy saai, sal jy maai. Daar is gevolge vir onvolkome gehoorsaamheid: dwang-arbeid en slawerny onder vreemde verdrukkers. God se Woord was nog altyd duidelik, daar mag geen vredesverdrae, ondertrouery of godsdienstige sinkretisme (samesmel-ting van godsdienstige opvattings) wees nie. Geen vreedsame naasbestaan met die heidendom nie. “En die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie. Hulle het ook nie geweet van Sy groot dade wat Hy gedoen het om vir Israel te help nie.” Rigters 2:10.

Die gevolge van sonde
Sonde lei tot dwingelandy. Sonde lei tot slawerny en lyding. Smeekgebede en om die Here te soek, lei egter tot verlossing. Wanneer God se volk tot inkeer gekom het, het die Here ’n rigter opgerig om hulle te verlos. “Toe het die Israeliete tot die Here geroep, en Hy het vir hulle ’n redder na vore laat kom wat hulle gered het.” Rigters 3:9. Die mense het fellowship met God verloor weens onvolkome gehoorsaamheid. Hulle het God se Woord verontagsaam en verdraagsaam geword teenoor die heidendom wat God hulle beveel het om te vernietig.

God se strategie vir oorgerustheid
Rigters 3:1-2 is God se strategie vir oorge-rustheid. Hy maak sondes strawwe sodat Hy Sy volk kan leer hoe om Hom in die stryd te vertrou. Dit is God se plan, dat Sy volk deur konflik opgelei, gesuiwer, gereinig en voorberei word om op te ruk. Is jy ’n toeskouer, of ’n soldaat?

’n Toets
Die Here het die heidene tussen Sy volk laat woon “om Israel te toets, om te sien of die Israeliete gehoorsaam sou wees aan die gebooie van die Here…” Rigters 3:4. Telkens sien ’n mens die dubbele vloeke van immoraliteit en afgodediens wat die volk van God verderf en hulle van God af weglei.

Die rigters
Die twaalf rigters sluit in: Otniël, Ehud, Samgar, Debora, Gideon, Tola, Jaïr, Jefta, Ibsan, Elon, Abdon en Simson.

Debora
Debora het ’n nood raakgesien en was vasberade om iets daaromtrent te doen. Sy het ander gekry om haar te help, het Barak met God se bevel gekonfronteer, het haar generaal met God se beloftes versterk en het ’n plan gemaak. Die leër van Israel sou die vyand op die vlakte aanpak – die vyand se sterk punt. Hoewel Israel uitoorlê en nie in ’n magsposisie was nie, het God ingegryp en ’n hewige storm en vloed gestuur wat die Kisonrivier sy walle laat oorstroom het, die vlakte was oorstroom en die strydwaens van Sisera het in die modder vasgeval. Toe Sisera te voet na die tent van Jael gevlug en daar geskuil het, het sy ’n tentpen deur sy kop gekap terwyl hy slaap. (Sien weer eens hierdie tema van die saad van die vrou wat die slang se kop verbrysel, soos geprofeteer in Genesis 3:15). In die lied van Debora wys sy diegene tereg wat tussen die kampvure gebly het om die fluitspel by die kuddes te hoor, wat by die skepe vertoef en by die kus agtergebly het en om verskeie redes nie daarin geslaag het om gedurende die oorlogstyd te mobiliseer nie. “Die Engel van die Here het gesê: ‘Julle moet vir Meros vervloek, julle moet sy inwoners sonder genade vervloek, want hulle het nie vir die Here kom veg nie, nie vir Hom teen die dapper vegters kom veg nie.’ ” Rigters 5:23.

Gideon
Die aggressiewe Midianiete het die land ingeneem, geplunder, die oeste verwoes, en nie ’n lewende ding gespaar nie. Soos swerms sprinkane het die Midianiete die Israeliete verarm totdat hulle na die Here om hulp uitgeroep het. Die Engel van die Here het Gideon geroep; aanvanklik was hy bangerig en ontmoedig. Hy het opdrag gekry om in die krag van die Here uit te gaan, maar Gideon het geprotesteer dat sy stam die swakste in Manasse is en dat hy die minste in sy eie familie is. Die wil van God sal jou egter nooit êrens heen lei waar die genade van die Here jou nie kan behoed nie. Waar God lei, voorsien Hy. God se dienskneg is God se ver-antwoordelikheid. Die veiligste plek is in die middel van God se wil.

Afbreek van die Baäl-altaar
Voordat die Midianiete verdryf kon word, moes die bron van hulle politieke en militêre mag, Baäl-aanbidding, aangeval word. God se altaar kan nie gebou word alvorens Baäl se altaar nie vernietig is nie. Die eerste opdrag aan Gideon was om ’n altaar van Baäl te vernietig, hy het in sy eie agterplaas begin.

Moed en konfrontasie
Persoonlike toewyding moet openbare moed en konfrontasie tot gevolg hê. Gideon se aksies dui op gehoorsame geloof ten spyte van sy vrees. Geloof is nie vreesloosheid nie, maar gehoorsaamheid. Gideon het Baäl openlik uitgedaag en oorleef om daarvan te vertel, en hierdeur bewys dat Baäl magteloos is. Wanneer God ons roep, rus Hy ons toe en bemagtig ons. Gideon was ’n sigbare bewys van God se krag en Baäl se swakheid.

Gideon se 300 manskappe
Gideon het toe ’n eenvoudige, geheime en betekenisvolle toets gebruik om sy spesiale groep soldate te kies. Die meeste van die 32 000 wat gekies het om God te dien, is afgekeur en huis toe gestuur. Hulle het God gekies, maar Hy het hulle nie gekies nie. Enigiemand kan water drink, maar dit is hoe ons die klein dingetjies doen, wat saak maak. Gideon se 300 het uitgegaan en 125 000 Midianiete verslaan.

Verslaan die Midianiete
Deur sy voorbeeld het Gideon ’n eenheid van aksie gemobiliseer wat spoed, vaardigheid en verrassing gebruik het om die vyand te verslaan. Hulle het die Midianiete omsingel en met volmaakte strategie en tydsberekening, met die klank van trompette en die lig van hulle brandende fakkels, die vyand mislei en laat dink dat daar ’n horde vyandelike linies aan alle kante was.

Simson
God het die gebede van ’n toegewyde paartjie vir ’n kind gehoor. Hierdie kind het ’n unieke geboorte gehad en sou ook ’n unieke lewenstyl hê – hy moes homself afgesonder hou om ononderbroke gemeenskap met God te behou. Die verhaal van Simson is een van vermorste potensiaal weens ’n gebrek aan dissipline. Simson het groot potensiaal gehad, maar het dit verkwis. Simson het Godvresende ouers gehad, ’n unieke geboorte, ’n unieke lewenstyl, groot krag, en hy is deur die Heilige Gees as verlosser gesalf. Simson het ’n swakkeling geword omdat hy nooit geleer het om homself te beheer nie. “Hy wat sy gees beheers [is beter] as een wat ’n stad inneem.” Spr 16:32.
Ten spyte van sy ernstige gebreke het Simson egter ’n passie vir vryheid gehad en het hy die bedreiging van die Filistyne ingesien. Sy weerstand het die Filistyne in so ’n mate gegrief dat hulle ’n groot leër gestuur het om met hom af te reken. Die Fi-listyne, wat 3 000 man gemobiliseer het om Simson gevange te neem, het die Hebreërs geïgnoreer.
Die Hebreërs het nie net die kans gemis om hulle by God se vryheidsvegter aan te sluit nie, hulle het met die verdrukkers saamgeheul om Simson te verraai! Hulle het slawerny bo vryheid verkies! Kompromie was gemakliker as toewyding en konfrontasie. Hulle het die vyand se vuil werk vir hom gedoen.

Moed en geloof
Simson het met geloof en moed opgetree en toegelaat dat hulle hom vasbind en het ongewapen en hulpeloos tussen die soldate van die groot Filistynse weermag ingestap. Die Gees van God het kragtig oor hom gekom en hy kon die toue losbreek waarmee hy gebind was. Hy het die kakebeen van ’n donkie opgetel en ’n duisend Filistyne doodgeslaan. Daarná was daar 20 jaar lank vrede en stabiliteit vir Israel onder Simson se leierskap.

Morele kompromie maak ons weerloos
Versoeking kom in aanloklike verpakkings.
Ons sien Simson se hardkoppige selfvertroue. Die verleiding deur Delila en die dwaasheid van sonde.
Die resultaat: skande, nederlaag en rampspoed.

Die boodskap van Rigters
Die verhaal van Simson som die boodskap van Rigters op: Sonde verblind. Sonde bind. Sonde bederf. God het Simson nooit laat vaar nie. Sy dissipline het tot herstel gelei. Verblind, vasgeketting, in slawerny en gevange, het Simson in ware berou na God toe teruggedraai. God het sy opregte gebed gehoor en deur Simson ’n groot oorwinning oor die bose behaal. Daar word eervol in Hebreërs 11 na Simson verwys.
Sonde het nie die laaste sê in ons lewens nie. Sonde kan nie wen nie. Geloof kan nie misluk nie. Jesus is die Ewige Rigter.

Vry na versoeking
Simson het gevry na versoeking en dít binne die einste vesting van sy vyand – Gasa. Sonde mag ’n klein begin hê, maar dit eindig nie daar nie. Die Skrif waarsku ons om “ niks met seksuele losbandigheid te doen [te] hê nie,“ 1 Kor 6:18, maar Simson het gekies om nie te vlug nie, hy het sy karakter verloor.
Vrede kom deur krag. Stabiliteit kom deur oorwinning. Hoogmoed kom egter tot ’n val. Simson het so vol selfvertroue en roekeloos geword dat hy homself opsetlik aan die vyand bloot gelê het. “Moet julle nie langer laat mislei nie: ‘Slegte geselskap bederf goeie sedes.’ “ 1 Kor 15:33.

DR. PETER HAMMOND is ’n sendeling, Bybel-leraar en outeur. Skakel: 021 689 4480; www.frontline.org.za (Sommige illustrasies vir hierdie artikel is deur Tim Shirey van ‘Child Evangelism Fellowship’ www.illustratedword.com)


Piet Smit: Berading Deur Sang

Met sy ryk, diep stem is Piet Smit ’n bekende in die gospel-genre. Van ’n beskeie begin as agtergrondsanger in restaurante, het hy oor twee dekades ontwikkel in ’n gesogte geestelike sanger en spreker. Sy album, ‘Heer U maak my nuut’, het in 2007 platinum-status bereik – ’n prestasie wat geen ander oorspronklike geestelike solo-album in Suid-Afrika hom nog kon nadoen nie. Min mense weet ook dat Piet betrokke is by die skryf van draaiboeke vir Christelike rolprente. Ek het met hom gesels tydens die vrystelling van sy nuutste CD: Eerste liefde.

Roeping en passie van sy hart
Baie van sy liedere fokus op innerlike genesing. Ek wou by hom weet waarom dit die geval is. “Ek het dit nie gekies nie. Van die eerste dag af was dit ’n roeping en ’n passie in my hart. Ek wou uitreik na mense wat agtergebly het in die lewe.” Hy verwys met droë humor na die tyd toe hy en Danie Botha dikwels saam opgetree het: “Ek en Danie verskil soos dag en nag. Hy wou die heeltyd die tempo versnel en teen die duiwel oorlog maak, terwyl ék in kalmte en stilte musiek-salf wou aansmeer en al die stukkendes optel.”

Eie ervaring word lirieke
Die inspirasie vir sy liedjies kom uit eie ervaring – hetsy dit nederlaag of oorwinning is. Dit getuig van lewenslesse waardeur die Here hom geneem het, of soos hy dit stel: “Die meeste van die tyd is my krisisse veroorsaak deur my eie stompsinnigheid en verkeerde besluite.
As ’n mens later terugkyk na die oplossings wat die Here jou gegee het, is dit maklik om daaroor te skryf en te sing. Jou eie antwoorde het dan ook waarde vir ander mense omdat dit ‘n deurleefde werklikheid is – nie net teorie nie.”

Leer uit sy foute
Piet is ’n nederige en beskeie mens, wat openhartig praat oor foute wat hy gemaak het. Hy erken dat daar dinge is wat Hy graag anders sou wou doen en hoop dat ander Christene wat in ‘n bediening staan, uit sy foute kan leer. “Toe ek in 1994 met my bediening begin het, was ek totaal oorstelp met wat die Here vír my en déúr my gedoen het. Daar was ’n onophoudelike stroom van uitnodigings om te kom sing. Ek het vyf keer per week opgetree. Die CD-verkope en die goue- en platinum toekennings was vir my ’n bevestiging van die Here se guns en goedkeuring. Ek kon net nie ‘‘Nee’’ sê nie.
Maar – vandag onthou ek soveel keer wat ek op ’n Saterdagmiddag met my kitaar die huis uitgestap het. Dan sit my twee seuntjies verwese en vra of Pappa al weer gaan sing. ‘‘Ja,’’ het ek elke keer onnadenkend geantwoord. ‘‘Pappa werk vir die Here!’’ Dit het nie oor geld of roem of eer nie gegaan nie. Ek het ’n roeping gevoel om ’n verskil te maak – maar nooit het ek besef dat my verhouding met my eie gesin my eerste verantwoordelikheid was nie. Onlangs eers het ek besef dat hier ’n vrou en twee jong mans in my huis woon – en dat ek hulle eintlik nie ken nie.

‘n Tweede kans
Gelukkig het die Here Piet ’n geleentheid gegee om hierdie fout reg te stel. Nou gim en skubaduik hy saam met sy seuns: “Die Here het my gelukkig ’n tweede kans met hulle gegee. Wat ek egter die graagste sou wou verander, is dat ek meer tyd met my vrou sou wou spandeer. Elmarie het vir meer as twintig jaar lank bykans elke naweek alleen by die huis gesit. In die 35 jaar wat sy al met my getroud is, het sy het ‘n bitter duur prys vir my sangbediening betaal. As ek weer kon kies, sou ek dit anders doen”.

Wat gaan dit verg?
Soveel jongmense vra Piet wat hulle moet doen om ’n beroemde sanger te word. Voor hy raad gee, vertel hy hulle egter eers altyd wat dit van hulle gaan verg wánneer hulle dan bekendheid verwerf het. “Dit is ’n harde lewe waar jy uit ’n tas leef, elke tweede, derde aand in ’n ander bed slaap en dae aanmekaar lank ‘garage-pies’ eet. Jy ry soms vier uur na ’n gemeente toe, stel jou klank op en bedien die mense vir twee uur lank. Ná die tyd gee hulle jou ’n biltongruiker toegedraai in sellofaan – en ’n warm handdruk. Almal groet en ry, en laat jou om alles self weer op te pak.
Terwyl jy dan die lang pad huis toe ry, moet jy alles in liefde verwerk en leer vertrou dat die Here jou die petrolgeld sal gee.” Piet getuig egter dat die Here hulle gesin in 23 jaar nog nooit in die steek gelaat het nie, al het dit al ’n paar keer so gevoel.

Singende berader
Op sy webwerf getuig Piet dat dit sy opregte begeerte is om sy talent uitsluitlik tot eer van God te gebruik. In woord en daad getuig sy lewe inderdaad van ’n diep liefde vir Jesus en respek vir God. Kontak Piet gerus as jy belang stel dat hy by jou gemeente kom optree: www.pietsmit.com.


Jesus: Laat Die Kindertjies na My toe kom

n Verslaggewer het die beroemde teoloog, Karl Barth, eens gevra om sy standpunt oor Christen-doktrine op te som. Barth was ’n gerespekteerde teoloog en het 12 dik boekdele oor teologie voltooi. Hy sou dus ’n indrukwekkende verhandeling kon gee, maar hy het nie. In plaas daarvan het hy eenvoudig geantwoord: “Jesus min my salig lot, ek weet uit die Woord van God.”
Daardie eenvoudige woorde, op ’n ongekompliseerde wysie getoonset, bevat die grondigste waarheid wat die wêreld ooit sal hoor. Die woorde kom uit een van die bekendste hallelujaliedjies. Die Bybel leer ons dat Jesus ons inderdaad liefhet en die Bybel wys ons spesifiek daarop dat Jesus kindertjies liefhet.

Was Jesus te besig?
Markus 10 vertel van ’n besige dag vir Jesus en sy dissipels toe mense probeer het om ’n paar kindertjies na Jesus toe te bring sodat Hy hulle kon seën. Die dissipels het ’n vol program gehad. Hulle het nie tyd vir hierdie lastige kindertjies gehad nie, en het die ouers ook so ingelig.
Die dissipels het diegene wat kindertjies na Jesus toe gebring het, berispe! Hulle het gedink dat Jesus te belangrik is om hom met kindertjies op te hou. Hulle het gedink dat die kinders ’n oorlas en ’n onnodige steurnis is. “Kan julle nie sien dat Jesus met belangriker sake as kinders besig is nie? Hy het werk om te doen! Laat staan Hom! Hy is besig om ons te onderrig. Hy het nie tyd om met kindertjies te mors nie!”
Volgens Markus 10:14-16 het Jesus, toe Hy sien wat gebeur, vir Sy dissipels kwaad geword. Hy het vir hulle gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker Ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos ’n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie.“ Toe het Hy Sy arms om die kindertjies gesit, Sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën.
Jesus het nie dikwels kwaad geword nie, maar toe Sy dissipels probeer het om die kinders weg te wys, het Jesus kwaad geword! Hy het nie die kindertjies as ’n mors van Sy kosbare tyd beskou nie. Jesus het waarde aan kinders geheg. En, Hy het seker gemaak dat Sy dissipels daardie boodskap duidelik verstaan.

Die vernaamste in die koninkryk
Kan jy jou voorstel hoe dit vir daardie kindertjies moes wees om Jesus se Hand op hulle te voel en geseën te word? Jesus het daardie kindertjies innig liefgehad.
Matteus 18 vermeld ’n geleentheid toe Jesus se dissipels Hom gevra het: “Wie gaan die belangrikste in die koninkryk van die Hemel wees?” Jesus het ’n kindjie nader geroep. Hy het aan Sy volgelinge gesê: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die Hemel kom nie.” Matt 18:3.
Waarna het Jesus verwys? Wat het kinders wat volwassenes kortkom? Natuurlik het Hy nie van volwassenheid of intellek gepraat nie. Ek dink ook nie Hy het oor onskuld of gehoorsaamheid gepraat nie. Dit neem kindertjies nie lank om allerhande maniere uit te dink om ongehoorsaam te wees nie.
Die kwaliteit waarvan Jesus gepraat het, is vertroue. Kinders vertrou van nature baie maklik. As volwassenes wil ons op ons eie
prestasies staatmaak. Hoe langer ons weg van God af leef, hoe moeiliker is dit om te erken dat ons God se genade nodig het. Aan die ander kant is daardie soort absolute vertroue heel natuurlik by kindertjies.
Die regte tyd om te besluit
Onlangse statistieke bewys dat meer as 83% Christene die besluit om Christus te volg, voor die ouderdom van 18 gemaak het. Slegs 17% word ná die ouderdom van 18 gered. Kinders en jongmense is ’n prioriteit vir Jesus en hulle moet ’n prioriteit vir ons wees!
Jesus het voortgegaan deur aan Sy dissipels te sê: “En wie so ’n kindjie in My Naam ontvang, ontvang My. Elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, van My afvallig maak, vir hom is dit beter as hy met ’n groot meulsteen aan sy nek in die diep see verdrink.” Matt 18:5-6.
Histories het die Russiese Ortodokse Kerk daarin misluk om onderrig aan die kinders en jeug van die kerk te bied. Hulle mislukking het ’n lugleegte in die denke van die Russiese jeug gelaat en kommunisme het gepoog om daardie gaping te vul. Daarom is die kerk van Rusland deels verantwoordelik vir 70 jaar van verdrukking onder ateïstiese kommunisme.
Weliswaar verg dit energie en geduld om kinders te leer. Dit verg tyd en geld om aan die behoeftes van jongmense te voorsien. Maar dit is die moeite werd!
Wanneer jy kindertjies by die kerk sien rondhardloop, sien jy hulle wat die vernaamste in die koninkryk van die Hemel is. Kinderbediening is waarskynlik die belangrikste bediening in jou plaaslike kerk.

Geestelike leiding
Daar is ouers wat nie die belang verstaan om hulle kinders geestelike leiding te gee nie. Hulle wil wag tot hulle kinders oud genoeg is om self oor geestelike dinge en kerk-toe-gaan te kan besluit. Tog laat hierdie ouers nie hulle kinders toe om te wag tot hulle oud genoeg is om self te besluit of hulle skool toe moet gaan, die tandarts moet besoek, of hulle kamer moet skoonmaak nie.
Daar is die staaltjie van ’n dominee wat sy tuin aan ’n man wou wys wat nie sy kinders toegelaat het om kerk toe te kom nie. Hy wou hê dat sy kinders moes wag totdat hulle oud genoeg is om vir hulself te besluit. Toe die dominee en die man die tuin instap, was dit vol onkruid wat die lemoenpampoentjies, boontjies en tamaties toegegroei het. Die man het gesê: “Maar, dit is ’n jammerlike verskoning van ’n tuin!” Waarop die dominee geantwoord het: “Ek wil wag totdat die groente ’n kans gehad het om self te besluit in watter rigting dit wil groei!”
Die kindertjies is na Jesus toe gebring. Dit is wat Jesus wil hê jy moet doen. Hy wil hê dat jy die kindertjies na Hom toe bring. As jy hulle nie bring nie, mag hulle dalk nooit kom nie.

NICO BOUGAS is die internationale koördineerder van Hellenic Ministries. E-pos: nico@bougas.info of www.hellenicministries.com


Geestelike Volwassenheid

Ons leef in ’n tyd waarin baie mense daarop ingestel is om vooruit te gaan en die hoogspringdwarslat al hoёr op te skuif. Die vraag is egter of ons net so toegewyd is om geestelik te groei, nader aan die Here te kom en meer bruikbaar in Sy diens te wees.
Mense lees boeke, woon kursusse by en kry berading om hulle huwelik te verbeter. Ouers doen moeite en offer alles op om ’n beter opvoeding vir hulle kinders te verkry. Mense studeer en bekwaam hulle om bevordering te kry en meer geld te maak.

Staan jy geestelik stil?
Die Bybel moedig ons aan om nie geestelike babas te bly nie en volwasse te word. Die Bybel waarsku ons om nie geestelik te stagneer nie. Ons moet ons beywer om meer gehoorsaam te wees en Jesus te volg omdat daar groter en heerliker dinge op ons wag. Ons mag nooit by ’n punt van selftevredenheid kom asof ons volmaaktheid bereik het nie. Daar wag vir ons nuwe skatte in God se Woord en geestelike ervarings wat ons tot nou toe nog nie geken het nie.

Meet jou geestelike groei
In Amerika is ’n ondersoek met 11 000 vraelyste aan sewe verskillende gemeentes geloods om te bepaal hoe ver gemeentelede geestelik gegroei het. Hierdie ondersoek het baie interessante bevindings opgelewer. Daar is bepaal dat daar vier groepe mense in die Kerk is:
• Soekend na God Eerstens, mense wat ge-reeld kerk toe gaan, maar nie ’n verhouding met God het nie. Hulle lees soms Bybel en bid af en toe, maar is soekend. Alhoewel godsdienstig, het hulle nog nie ’n lewende verhouding met God nie.
• Pasgebore kinders van God Die volgende groep is die soekendes wat by Christus uitgekom het en hulle lewe aan Hom oorgegee het. Hulle het sekerheid van sondevergifnis en hulle kindskap van God. Hulle skakel in by kerklike aktiwiteite en begin stiltetyd hou. As pasgebore kinders van God is hulle grootste begeerte om geestelik te groei.
• Afhanklik van Christus ’n Derde groep is diegene wat al ’n geruime tyd Christene is en alles doen om naby aan Christus te lewe. Hulle is van Christus afhanklik vir elke dag se lewe en besluite. Hulle wil nie ’n oomblik van Christus verwyderd wees nie en vra Sy hulp en leiding in alles. As hulle by geestelike aktiwiteite en kleingroepe inskakel, is hulle grootste begeerte om steeds nader aan die Here te kom.
• Volwasse Christene Die ideaal van Christenskap word deur die vierde groep nagevolg deur daarna te strewe om Christus-gesentreerd te lewe. Hulle verhouding met Christus is vir hulle die prioriteit in hulle lewe. Hulle is volkome aan Christus oorgegee en is bereid om alles op te offer en te doen wat Christus van hulle vra. Hulle hele lewe, hulle agenda en geldsake is onder die beheer van die Heilige Gees. Hulle getuig elke dag en praat spontaan met ander oor Christus. Hulle fokus is om ander te dien en te help. Hierdie groep is die geestelike volwassenes in die gemeente. Dit is hulle wat ’n impak maak en die gemeente help groei en uitbrei.

Leef jy selfgesentreerd?
God se begeerte en plan is vir elke gelowige om in gehoorsaamheid na die volgende stap van geestelike groei te beweeg. Ons mag nie passief, lui of selftevrede raak en geestelik stagneer nie. Ons moet God se skeppingsdoel en rede vir ons verlossing uitlewe. God se plan vir ons elkeen is om ’n kanaal van seën te wees en ’n bediening te hê wat mense aanraak en help.
Ons moet onsself afvra of ons ander mense beïnvloed. Is ons ’n mentor vir iemand anders, of dalk iemand wat tydens ’n uitreik die leiding neem? Waaroor bid ons? Waarmee is ons elke dag besig? Waarop fokus ons elke dag?
Mag die Here ons inspireer om steeds te groei en al hoe meer mense geestelik te beïnvloed. As ons gehoorsaam is aan die stem van die Heilige Gees en luister na dit wat die Gees op ons hart lê, sal ons geestelik groei en ’n groter bydrae tot die Koninkryk van God maak. Gehoorsaamheid is die sleutel tot geestelike groei!

DIRKIE VAN DER SPUY, leier van Moreletapark Assosiasie – die nasionale
en internasionale uitreikfokus van die NGK Moreletapark. 021 997 8066 of www.moreletapark.com


Eensaamheid tydens Kersfees: Praktiese advies

Hierdie wêreld word toenemend ’n eensamer plek. Hoe ‘onafhankliker’ ons word, hoe meer besittings ons het, hoe meer ons deur sosiale media oorheers word, hoe minder het ons ander mense nodig. Daar ontstaan egter ’n vervreemding van ander mense wat ons van ander lossny.
Dit vernietig verhoudings en uiteindelik voel ons eensaam en verwerp. Die noodwendige gevolg is dat ons voel ons lewens is sinneloos en dit lei weer tot gevoelens van verwerping en wanhoop. Ons voel dat ons nie van belang is nie en dat niemand ons nodig het nie. Ons kry die gevoel dat ons lewens geen doel dien nie en dat niemand ons sal mis nie!

God plaas ons in gesinne
Hoe oorkom ons hierdie eensaamheid, die gevoelens van verwerping, sinneloosheid en wanhoop? Alle mense het familie nodig. Aan die begin het God die mens geskep en in ’n gesin en ’n familie geplaas. God openbaar Homself as ’n Vader. As daar ’n vader is, beteken dit daar is ’n gesin en familie.

’n Kind van God het familie
Vir baie van ons is ons familie dalk nie naby nie, het verhoudings so vertroebel dat ons nie meer regtig familiebande het nie, of is ons familie almal oorlede en het ons alleen agtergebly. Ons elkeen wil weet dat daar iemand is wat ons liefhet. Ons elk-een ‘wil-van-geweet-wees’. Dit is belangrik om te weet dat jy ’n Vader het. God, jou Vader, weet van jou en het jou onvoorwaardelik lief.
’n Kind van God het familie, want ons is deel van God se familie. Dít is die beginpunt. Miskien is jy onseker of jy ’n kind van God is. Kom na Hom toe, gee jou lewe vir Hom, vra Hom om jou Vader te wees. Glo dat Jesus vir jou sonde aan die Kruis betaal het. Bely jou sonde, draai jou rug daarop, vra Jesus om jou Verlosser te wees en in jou te kom bly.

God het jou met ’n doel gemaak
Vir elke mens is daar twee dinge wat belangrik is: eerstens, om te weet dat daar mense is wat vir jou omgee; tweedens, dat jou lewe ’n doel het. God het jóú so lief dat Hy bereid was om Sy Seun te offer sodat jy kan weet dat Hy jóú liefhet en vir jóú die ewige lewe wil gee. God het jou egter ook met ’n baie spesifieke doel gemaak. God het jou gemaak om vir ander tot seën te wees. Hy het jou gemaak om mense te help wat nood het. Dit beteken dat jy belangrik is. Dit beteken dat God jóú nodig het.

Twee dinge om te doen
Wat doen ’n mens in hierdie Kerstyd met jou eensaamheid, gevoelens van verwerping en jou gevoel dat die lewe sinneloos is? Daar is twee dinge wat jy moet doen:

1. Om die Vader te ontdek
Eerstens moet jy God vra om Homself as ’n Vader aan jou te openbaar. Lees byvoorbeeld Efesiërs 3:14-21. Moenie haastig wees nie. Vra die Heilige Gees om die Vader vir jou te wys – Sy karakter en hoe Hy oor jou voel. Maak elke dag tyd om dit te doen en hou aan totdat jy diep in jou gees weet dat God jóú Vader is.

2. Soek ander op
Tweedens moet jy ander mense wat nood het, gaan opsoek. Wie is daar vir wie jy hierdie Kerstyd iets kan doen wat hulle sal laat voel dat hulle nie alleen is nie en dat hulle vir God die Vader én vir jou belangrik is?
Daar is sulke mense waar jy werk; mense met jy deur die jaar kontak gehad het, mense in ouetehuise en kinderhuise. Daar is mense wat siek is en ander wat nie genoeg het om te eet nie. Gee ’n bord kos. Koop ’n klein geskenkie. Neem ’n bos blomme. Gaan bid vir iemand met wie dit nie goed gaan nie. Soek iemand op wat eensaam is of verwerping beleef. Gaan sit en gesels met hulle. Luister na hulle.
Luister met jou hart sodat hulle ervaar hoe belangrik hulle is en dat iemand hulle noodroep hoor en hulle pyn verstaan.

Nuwe sin in jou lewe
Wanneer jy weet dat jou Hemelse Vader jou liefhet net soos jy is, wanneer jy van jouself af kan wegkyk en ánder se nood kan raaksien, sal jou eie pyn verdwyn en sal daar nuwe sin in jou lewe kom. Doen hierdie twee dinge en jy sal ’n onvergeetlike Kersfees saam met God jou Vader en ander mense beleef.

BENNIE MOSTERT is die bestuurder van Jerigo-Mure-Gebedsnetwerk in Pretoria. Meer inligting: www.jwipn.com


Afrikaans: Die Pad Van Ons Taal

Afrikaans het ontstaan uit die mengelmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ’n kultuurpot saamgegooi is. Afrikaans se verhaal begin in 1652 met die aankoms van die Hollanders aan die Kaap. Benewens daardie Hollandse invloed was daar twee ander belangrike groepe wat ’n bydrae gelewer het: die slawe en die Khoi. Afrikaans se wortels lê dus beide binne en buite Suid-Afrika.

Europese wortels
Die 17de eeuse setlaars het verskillende dialekte uit Holland na die Kaap gebring. Die burgers het van verskeie Europese lande soos Holland, Duitsland en Frankryk gekom en het Hollands as hulle moedertaal aangeneem. Baie het heelwat later na die oostelike grense van die Kaap getrek en die tipe Hollands wat hulle gepraat het, is Oosgrens-Afrikaans genoem.

Oosterse wortels
Die slawe uit Hollandse kolonies in die Verre-Ooste, soos Batavia (tans Java), het uit verskillende linguistiese agtergronde gekom, maar almal kon tot ’n meerder of mindere mate Maleis-Portugees (wat self uit ’n soort Pidgin-Portugees onstaan het) praat. Dit was omdat Portugees meestal deur handelaars, soldate en matrose gepraat kon word.
In die Kaap het die slawe nou ook Hollands begin praat. Omdat die slawe hierdie tipe Hollands by mekaar leer praat het (by nie-moedertaalsprekers), was dit ’n vereenvoudigde Hollands wat deur Maleis-Portugees en ander slawetale beïnvloed is. Dit was die begin van die Kaapse Afrikaans.
Oorblyfsels van Maleis-Portugees is steeds in moderne Afrikaans te vind in woorde soos: baie, koejawel, makou, blatjang, bobotie, sosatie en piesang.

Suid-Afrikaanse wortels
Die inheemse Khoi-bevolking het ook ’n invloed op Afrikaans gehad. Die boere en Khoi moes handel dryf en hierdie ruilhandel het tot die ontstaan van ’n tipe Pidgin-Hollands tussen die vryburgers en die Khoi gelei.
Die Khoi se sosiale stelsel is vernietig en ná die pokke-epidemie het baie van die Khoi na die gebied naby die Oranjerivier uitgewyk. Die tipe Hollands wat hulle gepraat het, was bekend as Oranjerivier-Afrikaans. Oorblyfsels van die Khoi-tale kan in mo-derne Afrikaans gevind word in woorde soos: abba, boegoe, dagga, kanna, karos en kierie, koedoe, kwagga, geitjie, kango, kamma, aitsa, arrie en eina.

Vader van Afrikaans
Ná die Britse oorname in 1806 het die Kaap verengels weens ’n verengelsingsbeleid om Nederlands en Afrikaans te probeer verdring. Arnoldus Pannevis word as die vader van Afrikaans beskou. Hy was ’n taalkundige en onderwyser by De Gimnasium, ’n privaat skool vir Hollandssprekende kinders. Hy het besef dat die Kaaps-Hollands nie meer as ’n dialek van Hollands beskou kan word nie, maar inderwaarheid ’n nuwe taal is. Hy was die eerste persoon wat die taal, Afrikaans genoem het.

Genootskap van ‘regte’ Afrikaners
As diep godsdienstige wou Pannevis hê dat die Bybel in Afrikaans vertaal word, maar alvorens dit kon gebeur, moes Afrikaans erkenning as skryftaal kry. Die jong predikant, S.J. du Toit wat deur Pannevis by die Bybelgenootskap vir hierdie taak benoem is, het ’n vergadering byeengeroep om die vertaling en erkenning van Afrikaans as skryftaal te bespreek. Tydens die vergadering is besluit om die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) te stig om Afrikaans, wat toe reeds die spreektaal van duisende mense was, tot skryftaal te verhef en as landstaal erken te kry.

Lojale Afrikaanse harte
Die rede vir die benaming ‘regte’ Afrikaners was omdat daar volgens die GRA drie soorte Afrikaners in Suid-Afrika was: Afrikaners met Hollandse harte lojaal aan hul Hollandse verlede; Afrikaners met Engelse harte wat die taal en kultuur van die Engelse regering as hul eie beskou het; Regte Afrikaners met Afrikaanse harte lojaal aan die taal en kultuur van Suid-Afrika. Die GRA wou die Britse kul-tuurinvloed teenstaan.

Interessante feit
Van die vroegste Afrikaanse geskrifte is deur Imams van die Oosterse slawe in Arabies geskryf. Lees die volgende getranskribeerde voorbeeld hardop: “Oewhans wiet die riegtie wieg.” Dit beteken: “Ons weet die regte weg.”*
*Transkribering en verklarings uit «Abu Bakr se ‹Uiteensetting van die Godsdiens›» deur A. van Selms, 1979, North-Holland Publishing Company, Amsterdam/Oxford/New York

Wat is ’n dialek?
’n Dialek is ’n streeks- of ’n sosiale variëteit van ’n taal wat van die standaard literêre taal verskil. Dit mag verskil in uitspraak, grammatika of woordeskat. Cockney is byvoorbeeld ’n dialek van Engels, of Griekwa-Afrikaans ’n dialek van Afrikaans.

Wat is ’n pidgin?
Dit is ’n vereenvoudigde taal wat gebruik word in ’n situasie waar tydelike kontak tussen mense is wat nie dieselfde taal praat nie, soos in die konteks van handelaars, matrose en jagters wat met inheemse bevolkingsgroepe moet kommunikeer. Dit is ’n embriotaal met al die elemente van ’n taal, maar ’n beperkte woordeskat en vereenvoudigde grammatika. Die oorsprong van die naam kom glo van die Chinese Pidgin-Engels waar die woorde ‘talk business’ ‘tok pidgin’ geword het.

Betekenisverskil van Hollands
Teen die einde van die 19de eeu het die Hollands aan die Kaap al baie van standaard Hollands verskil. Die tabel dui aan hoe Afrikaans vandag van Hollands verskil:

WOORD HOLLANDSE BETEKENIS AFRIKAANSE BETEKENIS
Kombers growwe kombersstof op skepe gebruik sagte kombers
Kombuis skeepskombuis (‘galley’) kookplek in ’n huis
Vlei ’n plek tussen twee berge (vallei) moerasagtige grond tussen
hoogliggende gebiede

’n Koerant en ’n skool
Die GRA het dit gedoen deur ’n eie Afrikaanse koerant, Die Afrikaanse Patriot, te publiseer en deur die eerste Afrikaanse skool, die Gedenkschool der Hugenoten, te stig. Die eerste uitgawe van Die Afrikaanse Patriot het op 15 Januarie 1876 verskyn. D.F. du Toit (oom Lokomotief) was een van die eerste redakteurs van die koerant.
In 1914 is Afrikaans as amptelike skooltaal erken en in 1925 het dit saam met Engels een van twee amptelike landstale geword. Die eerste amptelike Afrikaanse Bybelvertaling het in 1933 verskyn. Ná 1994 het Afrikaans een van elf amptelike landstale geword.

Taalmonument
Die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans. Almal behoort hierdie unieke monument te besoek. Die ge-
dagte om ’n monument vir die Afrikaanse taal op te rig, het in 1942 posgevat.
’n Afrikaanse Taalmonument-komi-tee is gestig en daar is begin om fondse in te samel. Bouwerk het in 1972 begin en die monument is in 1975, ’n honderd jaar na die stigting van die GRA, ingewy.
Hierdie taalmonument is nie die enigste een in die land nie. Die oudste een staan op Burgersdorp en is eintlik opgerig vir die erkenning van Hollands. Die dorpe Kroonstad en Welkom het albei in 1959 monumente vir die Afrikaanse taal opgerig.
Daar is ook monumente op Lichtenburg, Ventersburg, Touwsrivier, Worcester, Louis Trichardt, Belfast, Ermelo, Ohrigstad, Delareyville, Petrus Steyn, Reddersburg, Reitz, Johannesburg, Ladismith, Riebeek-Kasteel, Aberdeen en Oos-Londen opgerig tydens die Taalfeesjaar in 1975.

Taalmuseum
Die Taalmuseum is in die hartjie van die Paarl, in die voormalige huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) en waar die GRA inderdaad gestig is. Die museums is gestig om die lede van die GRA te vereer en is in 1971 deur die Taalmonument-komitee gekoop en deur argitek, Gabriel Fagan gerestoureer. Dit is in 1975 amptelik geopen. Die museum se uitstallings handel oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans.

Afrikaans in die nuwe bedeling
Tydens die 2011-Sensus het dit aan die lig gekom dat Afrikaans die derde grootste taalgroep in Suid-Afrika is met meer as ses miljoen moedertaalsprekers (Zulu en Xhosa die twee ander taalgroepe) en met bykans net soveel mense wat dit as tweede of derde taal praat. Tog is daar ’n opvatting dat Afrikaans aan die kwyn is en nie deur baie mense gepraat word nie. Volgens die Sensus is die opvallendste taalverandering dat daar ’n toename in huistaalsprekers van Engels is, met ’n afname in Afrikatale en ’n geringe toename in Afrikaans. Dit is ’n geval van taalverskuiwing.

Taalverskuiwing
Taalverskuiwing geskied wanneer mense van ’n taalgroep daardie taal met ’n ander taal vervang. Soms is dit net gedeeltelike verskuiwing – wanneer die verskuiwing net binne ’n sekere konteks plaasvind, bv. Afrikaanssprekendes wat by restaurante en tydens inkopies Engels praat, maar by die huis Afrikaans praat.
Wanneer mense egter die ander taal die heeltyd gebruik en die oorspronklike taal afskeep, word dit totale taalverskuiwing. Die afsterf van die taal is die finale fase van taalverskuiwing. Dit geskied gewoonlik oor ’n lang tydperk en in verskillende fases. Tweetaligheid wat oorgaan in vervangende tweetaligheid, waar die spreker hulle eie taal met die dominante taal begin vervang, is een van hierdie fases. Dit lei tot sprekers wat sy moedertaal nie meer ordentlik kan praat nie en uiteindelike eentalig word.

Simboliek van die Taalmonument
Die simboliek van die monument sluit die bydrae van al die tale in wat tot Afrikaans se ontstaan gelei het:
• Drie suile = Wes-Europese tale, onder meer Hollands, Frans, Duits en Portugees.
• Muur = Maleise taal.
• Podium met rondings = Khoi-, Nguni- en Sothotale.
• Brug = ver-smelting van Afrika en Europese tale.
• Hoofsuil = Afrikaans.
• Suil = Suid-Afrika

Dominante status van Engels
Weens Engels se dominante status word dit in verhouding met die ander tale meer gebruik (al is dit nie die moedertaal van die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners nie). Mense kies bloot om dit meer as ander tale te praat omdat hulle dit as die taal van ekonomiese, politiese en sosiale mag beskou.

Ongelykheid in toedeling van beurse
In sy artikel haal Flip Smit aan dat net 2% wit studente en 4% bruin studente tans beurse van die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) ontvang. Dit veroorsaak dat minder as 20% na universiteite kan gaan. Volgens Langner van Solidariteit Helpende Hand is dit te min om selfs een Afrikaanstalige universiteit te regverdig, tensy daar stappe gedoen word om die benadeling van wit en bruin studente – deur die disproporsionele toedeling van beurse – reg te stel.

Afrikaans as onderrigtaal
Daar is ’n toenemende daling in die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in beide skole en universiteite. Volgens statistieke het Afrikaans-enkelmedium skole in ’n provinsie soos Mpumalanga van 1993 tot 2003 met 96% gedaal (van 90 skole tot slegs 3 in 2003). Vyf Suid-Afrikaanse universiteite was in 1980 Afrikaans-medium en 15 Engels; in 1994 was 18 Engels, 5 tweetalig en géén universiteit wat Afrikaans as enigste onderrigmedium gebruik nie.
Sedert 1995 het Tukkiesstudente wat kies om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik, van bykans 70% tot 34,8% gedaal en die studente wat Engels verkies, van 29,2% na 65,2% gestyg.
Afrikaanse ouers plaas toenemend hulle kinders in Engelse skole. Afrikaanse skole veg om voortbestaan en Afrikaanssprekendes in die gemeenskap dien self die doodslag toe! Die gesindheid is dat kinders met ’n Afrikaanse opvoeding ’n agterstand teenoor Engelse in die sakewêreld sal hê. Dit is ’n groot mistasting. Suksesvolle Afrikaanse sakelui, soos die Ruperts en Christo Wiese, staan glad nie terug in die sakewêreld nie.
Die wêreld is hedendaags ’n globale stad met multinasionale beroepslui in elke hoekie van die aardbol. Ingenieurs van Duitsland (eentalige nasie), het nie ’n agterstand teenoor En-gelse ampsgenote nie, om nie te praat van die 800 000 Afrikaners wat geëmigreer het en werk kon kry ‘ten spyte van’ hulle moedertaalonderrig nie. Waarom die wanpersepsie? Dalk weens uitlatings soos dié van professor Jansen.

Engels as taal van versoening?
Prof Jansen, rektor van die Universiteit van die Vrystaat, het onlangs die stelling gemaak dat Engels, eerder as Afrikaans, die taal van versoening in hierdie land sal moet wees. “Dit verbaas my steeds hoe ‘n versigtige argument oor taalinklusiwiteit ernstig verdraai kan word vir die maksimum mediabohaai,” het hy in reaksie op die ontstoke debatvoering wat daarop gevolg het, getwiet.
Wat hy taalinklusiwititeit noem, sal noodwendig tot eentaligheid lei. Ons behoort eerder meertaligheid na te streef. Slegs diegene wat reeds eentalig Engels is, sal by Jansen se voorstel baat en ander sprekers sal hulle tale daarvoor inboet, soos wat reeds aan die gebeur is met die Afrikatale.

Skyn van veeltaligheid
Volgens die skrywers van ’n navorsingsverslag, ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende studente aan Unisa’, word die oorheersing van Engels onder die skyn van veeltaligheid aangeblaas. By UNISA neem die aantal vakke wat slegs in Engels aangebied word al hoe meer toe en verloor Afrikaans sy voorheen gelyke status met Engels.
Volgens Flip Smit, voormalige rektor van UP, is dubbelmediumonderrig (Afri-kaans en Engels die swakste wyse van onderrig en gewoonlik net ’n tussenstadium vir Engelstalige onderrig. ’n Kosteberaming by een universiteit dui aan dat dié wyse van onderrig vir alle kursusse onbekostigbaar is, maar dat tolkdienste goed werk en bekostigbaar is.
By die NWU word die tolkmodus gebruik om hierdie probleem op te los. Dit is die pad wat uiteindelik ook vir US en UP voorlê. Daar moet seker gemaak word dat Afrikaans aan minstens twee universiteite status as universiteitstaal behou.

Professor Wannie Carstens, professor aan Noordwes-Universiteit en voorsitter van die Raad van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het in sy lesing sy droom vir Afrikaans in 2033 uitgespreek. Hy het gesê dat hy droom dat Afrikaans oor 20 jaar steeds as volwaardige taal in skole, universiteite, howe, ens., gebruik sal word. Hy twyfel nie aan Afrikaans se potensiaal nie. Dit is ’n beduidende taal (een van die 120 grootste tale uit 7 105 tale). Min mense weet byvoorbeeld dat Afrikaanse taalverwerwing en Geskiedenis van Afrikaans as vakke geneem kan word by die Adam Mickiewicz-Universiteit (UAM) in Pole. Daar word selfs tans aan die eerste Pools-Afrikaanse woordeboek gewerk.
Groei of kwyn
’n Taal se oorlewing word gemeet aan faktore soos die behoud van die taal se funksies en die status van die taal. ’n Taal moet hoë sowel as lae funksies hê. As ’n hoë funksie soos gebruik in amptelike konteks verlore gaan, het dit ’n negatiewe effek; daarom is dit van kardinale belang dat Afrikaans steeds as ’n vakkundige taal op tersiêre vlak gebruik moet word.

Verseker voortbestaan
Volgens prof. Carstens kan ons die volgende stappe doen om Afrikaans se voortbestaan te verseker:
• Maak seker dat Afrikaansmedium kinders na Afrikaansmedium skole gaan
• Behou Afrikaans as wetenskapstaal
• Behou Afrikaans as publikasietaal – publi-seer koerante, tydskrifte, boeke, weten-skapartikels
• Hou vol om Afrikaans in al sy funksies te gebruik: by die huis, by die werksplek (Afri-kaans is ’n ekonomiese bate), by die kerk, in die howe, daar waar ons ontspan. Ons durf nie toelaat dat een funksie verlore gaan nie. Onthou: as ons op onderwysvlak verloor, begin die taal te kwyn – onderwys is die skakel tussen alle funksies
• Ons moet die volle verskeidenheid van Afrikaans erken. Ons het standaard- en niestandaardvariëteite en die een is nie noodwendig beter as die ander een nie.
• Ons moet Afrikaans ondersteun waar ons kan. Kom ons koop Afrikaanse boeke, koerante en tydskrifte; luister Afrikaanse musiek; woon Afrikaanse kunstefeeste by. Kom ons gee ons geld vir Afrikaans en help ’n mark vir Afrikaans en sy produkte skep.
• Raak betrokke by Afrikaanse projekte. As jy nie tyd het nie, gee dan jou geld. Ons het baie fondse nodig om Afrikaanse kinders te laat studeer sodat hulle op hulle beurt weer die ekonomie kan stimuleer deur hulle vaardighede
• Ons moet trots wees op ons taal, maar ons moet terselfdertyd ook beleef wees teenoor die sprekers van ander tale. Watter beeld dra ons van Afrikaans en sy sprekers oor?
• Ons moet werk en geleenthede in Afrikaans skep

Inligting bekom uit prof. W. Carstens se ATM-lesing 26 September 2013; uit ‘Taalkeuses en -opinies van Afrikaanssprekende student aan Unisa’ deur E. Bornman, P.H. Potgieter en J.C. Pauw in ‘Tydskrif vir Geesteswetenskappe’ 53 (3)September 2013; statistieke soos uit die artikel van Vic Webb (2012): ‘Managing multilingualism in higher education in post-1994 South Africa, Language Matters: Studies in the Languages of Africa’, 43:2, 202-220 en ‘Language in a Changing World’: UNISA studiegids vir LIN2046, 2007:88-91.